Waterkloof Oggenddiens 12 September 1999

Markus 2:1-12

 

Die verhaal van die verlamde man

is een van mees merkwaardige verhale in die Bybel.

Die skildery van Zak Benjamin illustreer hoedat die vriende die verlamde man

deur die dakopening laat sak

tot by Jesus.

 

Daar is `n paar interessante sake in die verhaal.

Die skrifgeleerdes wat ontsteld is omdat Jesus die verlamde man

se sondes vergewe.

En Jesus wat in reaksie

nie net sy sondes vergewe nie

maar uiteindelik die man ook genees.

En wanneer die man dan sy draagbaar vat en voor die oë van almal uitstap,

prys die mense God oor die wonderwerk.

 

Maar daar is `n ander aspek wat ons maklik hier kan miskyk:

die rol van die verlamde man se vriende.

Die moeite wat hulle gedoen het.

Die vriende dra die verlamde man na Jesus toe

maar kan nie naby Jesus kom nie.

Dan dra hulle hulle vriend tot op die dak,

hulle breek die klei en die latte weg,

breek die dak oop en laat die draagbaar met die man daardeur sak.

 

En dan: Toe Jesus hulle geloof sien -

toe Jesus die geloof van die vriende sien -

Hy vir die verlamde: Jou sondes is jou vergewe.

sy sondes word vergewe omdat hulle glo!

Hier word nie gesê dat die man self nie geglo het nie, dit is dalk ook daarby

maar dit gaan nie net oor sy geloof nie

hulle geloof speel `n baie belangrike rol.

 

1       Wat is dit?

 

Ek wil vandag spesifiek hierdie aspek beklemtoon:

om vir `n ander te sorg, om `n ander te dra, om mekaar te dra...

Wat hierdie mense gedoen het

is die uiterste voorbeeld van sorg,

van "caringness", van omgee, van naasteliefde.

 

Die sorgende liefde vir ander is die kern van Christen wees.

Dalk is dit die essensie van mens-wees.

Om te sorg vir ander maak die menslike wese menslik: ware mens,

die mens wat God wil hê ons moet wees.

Dit is wat ons is: sorgend.

 

Dit is interessant dat beide die Afrikaanse woord sorg

en die Engelse woord care

iets van `n angstigheid, ongerustheid, kommer ook in het

maar dit hoef nie negatief te wees nie:

want om sorgend te wees, is om besorg oor ander te wees.

Eintlik is dit iets wat baie positief is.

 

Die menslike prototipe van sorg

vind ons in die gesonde moeder-kind verhouding.

Dit is waar ons, volgens sielkundiges,

basiese vertroue en betroubaarheid leer ken en beleef.

Dit is natuurlik waaroor geloof ook gaan: Ek glo in God se sorgende liefde.

Maar interessant, alhoewei moederliefde as spontane iiefde gedoen word

is daar ook `n aspek van morele verantwoordelikheid

wat daaraan gekoppel kan word.

`n Moeder moet vir haar kind sorg.

Die sorgende handeling kom nie altyd maar outomaties nie.

Ons het `n verpligting. Ons moet dit doen as ons Christene is.

 

2       Vir wie moet ek sorg?

 

Hierdie mense in Lukas het vir hulle vriend gesorg.

 

In Gal 6:2 staan daar ons moet mekaar se laste dra en

1 Tes 5:11 ons moet mekaar moed inpraat en mekaar versterk.

En Rom 15:1 Op ons wat sterk is in die geloof

rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie.

 

Let daarop dat hierdie verse verwys na diegene wat swak en belas is.

Dit kan ook toegepas word op `n verskeidenheid van situasies

waar mense in nood (need) is en gedra moet word,

versterk moet word en aangemoedig word.

Dit beteken dat daar `n verskeidenheid van situasies is

en `n verskeidenheid van mense is wat gehelp moet word.

 

Ook `n verskeidenheid van wyses waarop mense kan help.

 

1 Thes 5:14 Wys tereg, praat moed in, help.

Jes 35:3,4a Bemoedig die wie se hande slap hang,

help die wie se knieë knik,

vir die wat moed verloor het: wees sterk,

moenie bang wees nie, julle God is hier.

 

Maar die beginsel wat die Bybel stel gaan veel verder

Die tweede groot gebod is: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

En wanneer jy dit doen tree jy sorgend op.

En toe `n wetgeleerde homself wou verskoon hiervan

deur `n diskussie oor die naaste aan die gang te sit deur te vra

"wie is my naaste?"

het Jesus geantwoord met `n verhaal, die verhaal van die Barmhartige Samaritaan.

Daarmee keer hy ons vraag:

"vir wie moet ek sorg, wie is my naaste", keer hy om:

Hy vra vir ons "Wie se naaste is jy?"

Wie se draagbaar dra jy?

 

Dalk is ons so oorweldig deur ons eie nood of ons eie agenda

dat ons ander nie altyd meer raak sien nie.

Of word ons ook verblind deur ons sosiale gesprekke

oor almal wat ons dalk kan misbruik?

As ons eerlik is - dalk leef ons in te veel selfsug, in ons eie wereld.

Dalk is ons so ingesuig in hierdie eie oorlewingstryd

dat my eie behoefte en my eie veiligheid en my eie voorspoed en eie nood

alles geword het.

Buite my, buite ons, is daar nie veel plek vir ander nie.

Maar vandag se vraag is: wie se naaste is jy? Wie dra jy?

 

Hoe? Kom ons kyk na hoe ons kan omgee.

 

Ek sorg al klaar vir `n ander wanneer ek eg, aktief na daardie persoon luister,

vir daardie persoon voel en probeer verstaan wat hy of sy deurmaak.

Ek sorg wanneer ek `n ander persoon aanmoedig,

ondersteun of vertroos.

In sulke handelinge sit iets van `n warmte en deernis,

ontferming, barmhartigheid of selfs medelye in.

 

In Brittanje is daar `n vorm van hulp wat "befriending" genoem word.

Die hulp wat die "befrienders" gee is net gebaseer op luister na,

die aanvaar van `n ander persoon,

die poging om `n ander te verstaan

sonder enige poging om advies te gee

of beraad-tegnieke toe te pas.

 

Ons kan op baie maniere vir mekaar sorg:

soms is dit nodig dat mense tereg gewys word,

ander kere moet diegene wat nie moed het nie,

die kleinmoediges,

moed ingepraat word,

die swakkes moet gehelp word.

Maar altyd met geduld.

 

Met ander woorde: die gesindheid waarmee ons dit doen is baie belangrik.

 

Dit beteken dat ek so af en toe by iemand tot stilstand kom

en werklik opreg vra "hoe gaan dit met jou?"

en dan werklik luister as daardie een antwoord.

 

Daar is `n Duitse Teoloog wat die essensie van `n Christelik-sorgende houding

in gasvryheid sien.

Hy koppel dit aan Rom 12:13

 

"Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid."

 

Eintlik gaan dit maar net oor liefde (Liefde)

en dan as iets wat gegee en ontvang moet word.

Dit is soos `n egte vriendskap, jy wil graag iets goed doen vir die ander,

jy wil belang stel, jy wil help en sal uit jou pad gaan om te help.

Dit is `n omgee wat mense help om die lewe te hanteer (om te "cope").

 

Om sorgend met ander om te gaan behoort eintlik `n spontane reaksie te wees

as gevolg van Christus se liefde wat ons beleef en ook wil uitleef teenoor ander.

 

4       Wat is die gevolg? Die effek?

 

Toe Christus hulle geloof sien...

het hy die man se sondes vergewe en hom ook genees.

 

Wanneer ons sorgend met mense omgaan

vind daar genesing plaas wanneer iemand weer begin leef en voluit leef;

en begeleiding wanneer jy help sodat hulle hulleself kan help;

en ondersteuning deur bystand sodat hulle voel hulle word ondersteun;

en mense wat in vervreemding leef word versoen met hulself,

soms met medemense, soms familie en ook met God versoen;

en mense word bemagtiging wanneer mense wat nie gehoor word nie `n stem kry;

en ons voed (nurture) wanneer ons iemand iets gee

om hulle potensiaal te help realiseer;

ons help mense om weerstand bied teen enigiets en enigiemand

wat vernietigend teenoor hulle optree;

ons help hulle om verlos te word ("liberated") uit onreg, om heel te word.

 

5       Wat is die motief vir ons sorg?

 

Menslike liefde is om `n ander persoon lief te hê

ter wille van homself.

Christelike liefde beteken dat ek ander lief het

ter wille van Christus.

 

Die mees basiese motief vir ons sorgende handeling

is nie ons eie goedheid en liefde vir ander mense nie maar

Christus se liefde wat in ons hart uitgestort is

en net eenvoudig met ander gedeel moet word.

Sy liefde stimuleer meegevoel (compassion)

wat ons oë oopmaak vir die nood van ander.

Miskien is dit net om te deel met ander.

Ons het met ander woorde `n verpligting!

 

Daar is `n hele rits tekste wat ek kan aanhaal daarvoor.

Ons moet die nood rondom ons raaksien.

Ons moet `n pastorale, `n sorgende hart ontwikkel

wat reageer op lyding en pyn,

wat `n sensitiwiteit het vir ander se eensaamheid en verdriet.

God roep ons daartoe,

maar mense rondom ons roep ook daarvoor.

 

Hoor ons dit?

 

6       Gemeenskap

 

Maar alles wat ek vandag gesê het sal min waarde hê indien ons nie besef dat die aspek van gemeenskap primêr deel is van sorg.

Wanneer ek sê sorg, sê ek deel, deel met mekaar, deel met ander.

Dit is veral en behoort waar te wees van Christen gemeentes.

Iemand het geskryf van die Christelike gemeente as `n ekologie van sorg

`n "ecology of care"

Indien ons kyk na die eerste kerk

dan het die eerste groeperings juis plaasgevind

tussen mense wat vir mekaar sorg.

 

Maar is dit nog so?

 

Soms lyk dit of hierdie funksie nou dikwels geprivatiseer is.

Soms vind die sorg nou meer plaas in plekke soos `n hospice, of `n tehuis,

of deur `n organisasie.

Ons het nou sielkundiges en pastorale terapeute nodig.

Dit is nie negatief nie.

Dit is óók belangrik.

Baie mense sal selfs meer gemaklik wees

om hulle gewone lewenswel en -wee

eerder met mense te deel by die werk as by die kerk.

En alhoewel dit goed is, is dit nie goed genoeg nie.

 

`n Kerk, `n gemeente, wat net `n ruimte is waar jy een keer per week

na `n goeie preek kan luister,

het sy hart verloor, is nie meer "gemeente", wat gemeenskap beteken nie.

Om die hart van `n gemeente te toets

sou jy kon kyk hoeveel van die gemeentelede by iets meer betrokke is

as net Sondae kerk toe gaan.

 

Daarmee wil ek nie beweer dat lidmate al hulle energie

in die gemeente moet inpomp nie.

Ek is juis oortuig dat ons `n roeping het om ons geloof elders sigbaar te maak.

Maar daar behoort darem meer te wees as die insidentele kerk-toe gaan

alleenlik wanneer `n spesifieke persoon preek, of Kersfees, of Paasfees.

 

Die hart van die gemeente klop in die hart van sy lidmate.

In lidmate wat omgee, omgee vir mekaar

en `n sensitiwiteit het vir die nood en pyn en eensaamheid van ander.

 

Ons sal nie maklik hardop sê "Ek gee nie om vir jou nie"

 

Iemand het gesê om dít te sê is die mees negatiewe ding om vir iemand te sê

maar wat sê my gedrag?

Wat lei ander af van hoe ek leef?

 

Sê my gedrag nie ook dikwels "ek gee nie werklik om nie?"

 

n Gemeente behoort ‘n ondersteunende netwerk van mense te verskaf

wat inskop indien dit nodig is.

Maar as ons nie dáár is onder gewone omstandighede nie

gaan die wat nood het

nie weet wie om te vra wanneer daar ongewone omstandighede is nie.

 

Volgens Joh 13:53 het Jesus gesê:

Hieraan sal die wereld weet dat julle my kinders is...

indien daar liefde onder mekaar is.

 

Dietrich Bonhoeffer het gewaarsku dat ons nie maar net kan aanneem dat Christene altyd tussen Christene sal kan woon nie. Jesus het tussen vyande gewoon en teen die einde het selfs sy dissipels hom verlaat.

Ons moet dit vertroetel –

as ons die voorreg het om saam te woon! Dit is `n gawe van God.

 

Slot

 

Liewe Boer en Suster,

 

Weet u van iemand in nood? Van iemand met `n probleem?

Kom ons begin weer dakpanne afpak vir mense

om hulle te help

om hulle na die Here te neem

 

Dit hoef nie net fisies te gebeur nie.

Dit kan ook in gebed gedoen word.

Ek dink baie van ons ken dit tot `n mate.

Hoeveel van ons het nie al ons kinders in groot kommer na die toe Here gebring nie

- sonder dat hulle dit weet?

 

Dit is die dak oopbreek.

 

Ons woon in huise met groot, hoë mure om ons.

Ons weet nie altyd wie langs ons intrek of woon nie.

Ons weet nie wat in hulle huise gebeur en wanneer daar nood is nie.

Ons kan kerk toe kom sonder om werklik met ander te meng.

Sonder om ander geleentheid te gee om ons te ontmoet.

 

Kom ons word weer mense wat sorg vir ander mense

wat `n naaste is vir ander

mense wat geloof het vir ander.

 

Kom ons dra mekaar

 

Amen

 

Dr Jan de Jongh van Arkel

Zak Benjamin Home