n Skildery van Zak Benjamin

Danie du Toit

 

bright gaiety and humour combined with an ethereal seriousness ... the paintings hold together, as natural, the most outlandish realities. Bold naiveté of forms and colours, stories of mysteries and conflict, trouble and healing - with a difference: friendly, zany, readable, provoking the viewer to look again a wholesome pleasure in the grit of life.

So word Zak Benjamin se werk beskryf deur die Kanadese kunskritikus en filosoof, Calvin Seerveld.

Benjamin se kuns is gevul met religieuse motiewe - soms voor die hand liggend, soms meer versluierd. In verskeie werke is die Jesus-figuur prominent - by geleentbeid in die konteks van n Evangelieverhaal, en andere kere, soos in die skildery onder bespreking, in n hedendaagse situasie.

Dit bly merkwaardig dat die Jesusfiguur kunstenaars vir bykans twintig eeue boei, en dat Jesus telkens weer in een of ander kunsvorm uitgebeeld word. n Mens sou kon sê dat die uitbeeldinge nog steeds pogings is (al is dit nie bewustelik nie) om n antwoord te bied op die vraag wat Jesus self aan die orde gestel het: Wie sê die mense is Ek? Wie Jesus vir jou is, kan natuurlik op verskillende maniere gekonstateer of bely word. Die kunstenaar beantwoord die vraag deur middel van sy kunsmedium en in sy eie idioom. Wanneer ons deur die kunstenaar se oë na die Christus-figuur kyk, is dit onvermydelik dat ons eie verstaan van Christus daardeur beinvloed kan word.

Die duisende uitbeeldings van Jesus wat reeds gemaak is, is totaal uiteenlopend van aard, onder meer omdat daar geen eietydse, eerstehandse afbeelding van Hom bestaan nie. Elke uitbeelding dra die stempel van die tyd waarin die skildery of beeld gemaak is. In elke eeu is ander aksente gelê. En die kunswerke van n bepaalde tyd weerspieël gewoonlik iets van die lewensgevoel wat op daardie tyd en plek heersend was. Ook die mensbeeld van die betrokke tyd en die aard van die Christelike geloof (soos wat dit op daardie tydstip verstaan en beleef is) speel in die uitbeelding van Jesus n rol. So word ons beeld van Jesus in n bepaalde sin ook prentjies van onsself. Langs die weg is Hy die een in en deur wie n mens jou eie menswees telkens weer kan herontdek.

Kenmerkend van die twintigste eeuse uitbeeldings is dat die Christus-figuur meermale doelbewus in n twintigste eeuse konteks geplaas word. Hedendaags word dit met hoë bewustheid gedoen om verskeie funksies te verrig. Dink maar aan die Duitser, Fritz Eichenberg, se The Christ of the Breadlines (c. 1950), waarin dit duidelik word dat die Christus-figuur betrokke is by mense in nood - by die armes, die uitgeworpenes van ons dag, mense wat in n ry staan vir n stukkie brood.

Vir mense van ons tyd val dit dus nie te vreemd op wanneer Zak Benjamin in sy uitbeelding van Jesus en die tafel met brood en wyn daarop, die Jesus-figuur midde in n omgewing plaas wat in hoë mate die tyd waarin ons leef, weerspieel. Hier is Jesus nie net die persoon wat twee duisend jaar gelede aan die kruis buite Jerusalem gesterf het nie, maar iemand wat betrokke is by ons dag; ons daaglikse bestaan. Wat merkwaardig is, is dat Benjamin dit op so n speelse trant, so ligvoets hanteer.

Skilderye waarin Jesus voorkom, laat mens selde lag. Wanneer die Christusfiguur in n skildery verskyn, word dit - ten spyte van at ons nuwerwetse idees oor kuns en kerk - gesien as n onderwerp wat jou op vroomheidsvlak behoort aan te spreek. Wat Zak Benjamin se skildery anders maak, is die feit dat n mens amper nie daarna kan kyk sonder dat dit n glimlag by jou ontlok nie. Dalk omdat dit amper n karikatuur is van ons daaglikse lewe.

Die skildery herinner n bietjie aan n legkaart, en dit kan by die kyker iets van n spelgevoel wakker roep - juis omdat die stukke daarvan so wonderlik eenvoudig is. Jesus is Jesus, die wasmasjien is n wasmasjien en die donkie - ja die donkie is a wonderlike ding. Die leë kaskar en die vol trok is van die meer dubbelsinnige simbole wat teenoor mekaar geplaas word. Hoewel daar seker nie twyfel oor hoef te bestaan dat die skildery ernstige sake aanspreek nie, word dit op so n vriendelike, sagte manier gedoen dat niks aan die kyker opgedring word nie. Die kyker kan n eie interpretasie gee - n interpretasie wat waarskynlik deurentyd sal groei en verander. Die skildery kan op n persoonlike vlak ervaar word, maar dit kan ook as kommentaar op n groter konteks gelees word.

Die skilder slaag uitstekend daarin om die skildery oor te gee aan die kyker. Dikwels is kunstenaars se simboliek baie persoonlik en vereis dit kennis van die kunstenaar self om die werk te begryp. Die feit dat al die elemente in die skildery amper ikoonagtig in hul eenvoud is, maak dit natuurlik nog meer toeganklik.

Die onskuld in Zak Benjamin se styl los n mens n bietjie weerloos. Daar is min skilderdetail, maar baie essensie. Die rooi en groen behoort n elektriese effek te he, maar tog is daar n melkerige gedemptheid aan die skildery wat dit versag, wat dit n beheersdheid gee.

Al lê die aksie feitlik op dieselfde vlak en staar alles jou direk in die gesig, is die geheelbeeld die van n geordende geheel wat slim saamgevoeg is. Dit trek jou aan. Terselfdertyd is die elemente van die geheel elkeen funksioneel binne die komposisie. Maar uiteindelik werk die kunstenaar hier eerder met die sentrale tema van Jesus se uitnodiging, en n mens hoef nie te veel stellings te probeer inlees nie, al sou die kleiner elemente spelenderwys subjektief verklaar kon word.

Dit is betekenisvol dat - in hierdie Benjamin-werk - die Jesus-figuur so sentraal staan, asof die skilder suggereer dat Jesus die hart van die werklikheid is. Die fokuspunt van die gegewe is Jesus wat gekruisig is, maar ook verwelkomend staan by die brood en die wyn. Al is dit so dat Hy in n gekruisigde houding is (let byvoorbeeld op die kopposisie), is Hy nie (meer) aan die kruis nie. Iets van die opstanding is sigbaar. En sy liggaamstaal is uitnodigend. Dit is byna voor die handliggend dat die kyker dit as n uitnodiging sal beleef, asof Christus sê: Kom - te midde van jou besige lewe, werk of spel - stop n bietjie, kom eet n stukkie brood en drink n bietjie wyn saam met My. Al is daar n heining/versperring tussen die toeskouer en die tafel, is daar n hekkie wat oop is en wat die uitnodiging beklemtoon.

Eie aan Benjamin word selfs die bekende met nuwe inhoud gevul. So is die mes wat op die tafel lê, onverwags, vreemd aan die nagmaaltafel. Iemand moet die brood sny! (Is dit deel van die uitnodiging aan die kyker/verbyganger om mee te doen aan die sny van die brood?)

Die wêreld waarin Jesus Hom volgens die werk bevind, is die vir-ons-bekende-werklikheid. n Wêreld wat deur Benjamin speels voorgestel word: elemente wat ons ken uit die werk van elke dag, maar wat ook as speelgoed gelees kan word. n Wêreld wat geteken word as beide landelik en geïndustrialiseerd; n eienskap wat deel van ons omgewing geword het; en waarin Jesus geplaas word as behorende tot dié volle omgewing. Dat die simbole en kleuraanwending ook die suggestie bied van n Afrikakonteks, bring die gegewe nog nader aan die Suid-Afrikaanse kyker.

By die sien van Zak Benjamin se skildery word die kyker ook n bevraagde. Die vraag wat die aandag in beslag neem is: Wat maak ék met die sagte uitnodiging wat skynbaar aan my gerig word?

Wie is Zak Benjamin? Om dit te wete te kom, moet mens daarvan bewus wees dat sy volle naam Izak Benjamin de Villiers is, en dan kan mens oor hom onder De Villiers in Grania Ogilvie The Dictionary of South African Painters and Sculptors lees. Hy is in 1951 in Johannesburg gebore, en het sy BA Skone Kunstegraad aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het vir n jaar of twee grafiese kuns doseer aan die Universiteit van Suid-Afrika, en hy het vir TRUK dekor geskilder. In 1975 was hy woonagtig in Amsterdam, Nederland, en na sy tuiskoms het by geswerf na Pretoria, Kaapstad, Johannesurg; tans woon by in Vereeniging. In 1979 het hy die grafiekprys op die Nuwe Handtekening gewen en in 1987 was hy finalis in die Volkskas Atelier Kompetisie. Sy werk is in die Pretoria Kunsmuseum en die Unisa Kunsgalery verteenwoordig. (Red.)