Uittreksel uit Beeld Kunsgids

Dinsdag 20 Julie 1999

 

Nuwe Bedeling in Beeldkuns

Twee opdragwerke: Zak Benjamin en Dirk Meerkotter

 

Wilhelm van Rensburg

 

Daar is ‘n nuwe bedeling in die kollektiewe beeldgeheue van Johannesburg. ‘n Nuwe geslag beskermheer het tot die kunstoneel toegetree. Hy dra die beeld van sy maatskappy en van sy kliënte ewe goed op die hart, of dit nou deur adverytensieveldtogte of deur argitektoniese konstruksies is. Hierdie beskermheer span saam met die beeldende kunstenaar om ‘n nuwe sinergie van kreatiwiteit te vorm.

 

Twee sulke beskermhere wat opdragwerke aan kunstenaars gegee het, is FCB – South Africa (voorheen bekend as Lindsey Smithers) in Sandton en Boogerman Krige–Argitekte in Bryanston.

 

Zak Benjamin en Dirk Meerkotter is onderskeidelik deur hierdie twee maatskappye gevra om die voorportale van hul nuwe hoofkantore te voorsien van kunswerke.

 

Albei kwyt hulle uitstekend van hul taak – alhoewel hulle dit op total uiteenlopende maniere doen. Albei opdragwerke het onmidellike trefkrag, is oorspronklik en relevant, getuig van vakmanskap en pas goed in die ruimte waarvoor dit geskep is.

 

Benjamin se driedimensionele installering by FCB het ‘n jazzy, byderwetse, selfs aweregse gevoel wat die potensiaal van die reklamemaatskappy uitbeeld.

 

Benjamin se oënskynlike sameflansing uit hout, sinkplaat, veselglas en pype weerspreek die fyn kompososionele aard daarvan en die sintese wat hy bewerkstellig in die uitbeelding van verskillende aspekte van die populêre media. Sy werk transformer die beeld van ‘n vaal ou rekenmeesteragtige geboutjie tot dié van ‘n dinamiese agentskap.

 

Sy werk getuig van ‘n “New Deal” in openbare opdragwerke. Dit is nie toevallig nie dat Benjamin geïnspireer is deur Stuart Davies wat in Amerika gewerk he tom die ideale van die “New Deal” in die twintiger- en dertigerjare in terme van die kunste te verwesenlik nie.

 

Benjamin voer sy eie skilderstyl tot ‘n nuwe hoogtepunt. Hy beweeg weg van sy bekende, gemoedelike realistiese styl tot ‘n suiwerder beeldgewing en deurdagter vakmanskap. Hy maak onbetwisbaar sy merk in ‘n toonaangewende agentskap deur sy breë kaligrafiese en fyn koloristiese definiëring van die voorportaalruimte.

 

Die wisselwerking tussen die ruimte van die gebou en die opdragwerk is ‘n hoogtepunt in ‘n gevestigde post-modernistiese tradisie in die kuns en argitektuur.

 

Die verhouding tussen beskermheer en kunstenaar betree ‘n nuwe fase met hierdie toonaangewende opdragwerk.